PSALM 33 | ||
  |
Benescke Botha* Op ’n vraag hoe die Heilige Gees se Stem dan klink, het ’n predikant onlangs hierdie ware verhaal vertel - ’n verhaal wat in sy eie lewe afgespeel het: Dit was ’n Dinsdagaand, 19:00. Die ingenieurstudent, Sias, het net voor sy lessenaar ingeskuif om te begin studeer vir ’n toets. Skielik het ’n frons op sy gesig verskyn. “Wat, Here? Wat sê U daar? Maar Here, ek het dan nou net klaar geëet?” Vir Sias het die opdrag wat die Heilige Gees pas op sy hart kom lê het, glad nie sin gemaak nie. Tog het hy besluit om gehoorsaam te wees. Met sy beursie in sy hand het hy in sy kar geklim en na die winkel gery om ’n brood te gaan koop. ’n Vreemde opgewondenheid het in sy hart kom lê. Wat op aarde sou die Here tog met hierdie brood wou doen? Nadat Sias die brood gekoop het, het hy vir ’n rukkie in sy kar voor die winkel gesit en wag. Dalk wou die Here ’n arm persoon oor sy pad stuur sodat hy die brood vir hom of haar kan gee? Daar was egter niks. Na ’n paar minute, het hy maar weer sy kar aangeskakel en begin om na die koshuis terug te ry - stadig. Dalk wou die Here vir hom iemand langs die pad wys vir wie hy die brood moes gee. Weer was daar niemand nie. Dit is toe Sias voor die koshuis parkeer dat hy begin wonder het of hy homself dan verbeel het. Dalk het die Here nie met hom gepraat nie? Sias was amper heel bo teen die trappe, op pad na sy kamer, toe een van die eerstejaarstudente van bo af by hom verbystap. “Dit is hy”. Die Heilige Gees se Fluisterstem was duidelik. “Maar”, wou Sias protesteer. “Wat as...” Binne-in sy hart het hy egter instinktief geweet wat hy moes doen. “Uh, skuus tog,” het hy nou na die jonger man geroep wat reeds besig was om by die trappe af te draf. “Ja?” Daar was ’n vraag op die jong student se gesig wat nou na hom gedraai het. “Ek weet dit mag dalk vreemd wees, maar... uh... hier is vir jou ’n brood.” Die vraag wat oomblikke gelede op die jong student se gesig was, het nou na skok verander terwyl trane stadig oor sy wange begin vloei. Daardie oggend het die jong student by God gepleit om aan hom ’n teken te gee dat Hy werklik bestaan. Die student was moedeloos en depressief oor al die uitdagings in sy lewe. Selfmoord was sy volgende stap. Dit was immers waarheen hy op pad was toe hy by die trappe afgestap het. (Daarom het hy daardie oggend besluit om vir die mees onwaarskynlike teken te vra. As God werklik bestaan en vir hom omgee, moet Hy asse-blief vir hom iemand stuur wat vir hom ’n brood sou gee). Daardie aand, 19:15 het die student sy brood gekry. Die Here het van hom geweet. Die Here het ’n lewe kom red! Ek wonder, voel jy dalk vandag soos een van hierdie twee mans? Dalk wonder jy ook of God enigsins vir jou en jou probleme omgee? Of dalk wonder jy of dit werklik die Heilige Gees is wat iets op jou hart kom lê het? Vir beide groepe wil ek vandag sê: Die Here hou jou dop. Hy weet van jou pyn, jou hartseer en van elke probleem of hindernis op jou pad. En op hierdie oomblik is Hy besig om mense en dinge in plek te stel om daardie seer van jou beter te maak. Hoe weet ek dit? Ek glo wat Dawid in Psalm 33:13 geskryf het: “Uit die hemel sien die Here al die mense raak, want Hy kyk van Sy troon af na al die aarde se inwoners” (Die Lewende Bybel). Op hierdie oomblik hou God jou dop - hier waar jy hierdie artikel sit en lees. Kan ek jou dus aanmoedig om gehoorsaam aan God te wees as Hy jou vandag as Sy instrument wil gebruik? Wees gehoorsaam as die Heilige Gees iets op jou hart kom lê - selfs al is dit ook die vreemdste versoek. Hy het immers vir Sias met sy brood gebruik om ’n lewe te red! Sterkte! Vader God, dankie dat ek kan weet dat U my raaksien vandag. Dankie dat ek kan weet dat U arm nooit te kort is om te help en U oor nooit te doof om te hoor nie. Dankie dat ek kan weet dat U altyd gereed is om my te help. Help my asseblief vandag om nie moed te verloor nie, maar om my hoop in U te vind. Ek plaas my verwagting in U. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. (*Benescke Botha is ’n vryskut-skrywer vir verskeie geestelike en inspirasietydskrifte). |